Timeline

Monday, 10 February 2014

Om huis te koop .....

Ons huurkontrak het einde Januarie verstryk.  Toe sit ons nou met die groot vraag .. Koop of Huur?  Die Aus huismark is besig om by die minuut te groei (veral in Sydney!!!) en as ons wil koop moet dit vinnig gebeur.

Die area waar ons woon is daar ook baie min huise te koop, wat die huispryse nog hoër laat styg!

Wel, so besluit manlief en ek dat ons maar huise begin kyk, en net vir ingeval 'n oog op die huurmark ook sal hou.

Nou ja, vir die wat dit nog nie weet nie, huiskoop en skouhuise werk glad nie soos in Suid Afrika nie.  'n Huis is op skou (hier noem hulle dit 'n Open House) vir 30 tot 45 minute en net op 'n Woensdag of Saterdag.  Dus, as daar 5 huise is wat jy wil gaan kyk moet jy jou timing BAIE goed beplan want baie van die huise is dieselfde tyd op skou en ook presies weet hoe ver die huise van mekaar is en hoe lank jy in 'n huis kan spandeer.  En as jy by die huis kom, dan moet jy vinnig kyk want daar is gewoonlik so 20+ couples wat ook deur die huis stap!!!

Enige persoon wat al huis gekoop het in Aus of selfs huurhuise gaan kyk weet dat jy omtrent hierdie timing ding wetenskaplik moet uitwerk en beplan!

So gaan kyk ek en Sarel na 'n klomp huise.  Elke een wat op die mark is in ons area waar ons wil bly.  Nog 'n probleem.  Die area is net so oor die 50 jaar oud en gevolglik het baie van die huise dus al so 5 of selfs tot 10 verskillende eienaars gehad.  Die gevolg .... 5 of 8 verskillende boustyle, idees en aanbouings aan die huise.  Sommige van die huise maak net nie sin nie. By party loop jy omtrent deur die badkamer of hoofslaapkamer om by die sitkamer uit te kom en ander is die 4 slaapkamers aan die uithoeke van die huis.  GEEN vloei deur die huis nie.

Ander huise is wel sooooo mooi maar saam met dit kom 'n price tag wat ons nie kan bekostig nie.  Ander is duur omdat dit 'n "view" het (mens kan Sydney tower van die toilet venster af sien .... of so stukkie water en dalk die bo-kant van die bote wat verby kom).  Nee kyk, as ek 'n view wil hê gaan dit nie 'n "stukkie iets wees nie"!!!  As ek koop, koop ek vir die view of ek koop vir die huis se waarde.  Nie omdat ek my nek moet verrek om iets nice te kan sien nie.  SERIOUSLY!!!

Ons was wel in 'n paar pragtige huise ook.  Nie almal is weird gebou of aangelas nie.  Hier rond doen hulle ook baie "knock downs" waar hulle die ou huis afbreek en 'n nuwe een op die erf bou. Daardie huise is mooi en modern en tick gewoonlik al die boksies! Maar, ons voel vir die area, verloor dit karakter.  Die ou huise bied 'n skere bekoring vir ons.

So tussen die huis soek praat ons toe met een agent en hy stel toe voor dat ons 'n sekere huis kom kyk ... en die huis is nog nie gelys nie en was nog nie 'n Open house nie.  So loop ek en Sarel by die huis in en voila ... ons is VERLIEF.  Dit is 'n ou huis, die agent se eie huis en hy het 37 jaar daar gebly en sy 3 kinders daar grootgemaak.

Die huis is groot en aangebou, maar dit is een persoon (gesin) se invloed en die huis werk!!! Dit maak sin! Die slaapkamers is mooi bymekaar, die tuin is prentjie mooi en daar is selfs genoeg slaapplek vir ons besoekers van ver af!  Hierdie is 'n huis wat ons kan in leef en ons sien onself nog vir jare hier.

So, nadat die huis toe gelys is en daar menigte voete deur die huis is, het ons toe besluit om 'n offer te maak.  Dit het alles so vinnig gebeur en die huis is gekoop.  Kontrakte geteken en alle "legalities" gedoen!!!  Ons trek die einde van die maand in!!!

Nou vir die groot pak (alweer!!!) en die trek, maar hopelik is dit ons laaste trek in 'n baie lang tyd.  Dit voel ook so of dit ons laaste stap van die immigrasie proses is.  Ons is een van die dae in ons eie huisie en al hierdie tydelike gevoelens van huurhuis en oppak kom nou tot 'n einde.

Ons immigrasie proses is nou klaar... nou kan ons 100% fokus op die toekoms en wat hierdie wonderlike land en sy mense ons bied!




Sunday, 26 January 2014

Australia Day nommer 2

Vandag is 26 Januarie.  Dit is ons tweede Australia day in Australia!

Laas jaar was ons maar 2 weke hier en ons was nuut.  Ons het vreemd gevoel en nog probeer ons voete vind.  Daar, in ons posbus toe ons ingetrek het was 'n briefie ... Australia day neighbourhood BBQ invitation.  WOW!  Ons ken nie eens ons bure nie en ons word uitgenooi na 'n woonbuurt braai.

Hier is hierdie jaar se uitnodiging.  Selfde as laas jaar s'n.



Ons het ons opsies opgeweeg en besluit ons gaan al die honderde ander aktiviteite wat op Australia day gebeur ignoreer en eerder rustig saam met die woonbuurt kuier en ons nuwe omgewing beter leer ken.

Dit was beslis die beste opsie!  Ons het daardie aand tot na 12 sit en kuier. Totale vreemdelinge wat daardie dag beste vriende geword het.  Sedert laas jaar se Australia day neighbourhood BBQ kuier ons gereeld by die bure en die kinders is almal onafskeidbaar.

In 'n tyd wat ons verward en nog onseker was het hierdie straat braai ons die beste opsie gegee om ons voete te vind!

Dus gaan ons vandag weer na ons straat braai en ek is seker ons gaan weer tot LAAT saam met ons bure kuier!

'n Interessante manier van kuier hier in Aus is dat hulle jou vra "to bring a plate" na so 'n bymekaarkoms.  Dit beteken NIE dat jy 'n bord om mee te eet nie.  Dit beteken jy bring 'n snack bord om te deel met jou mede gaste.  Verder BBQ die Aussies tradisioneel worsies (sausages of "snags") op Australia day.

Nou ja, ons Sausages is gekoop, ek gaan nou ons snack bord maak en dan gaan ons weer lekker kuier saam met ons Aussie vriende.

Vandag sê ek dankie aan Australia vir die geleenthede.  Die vryheid, die vrede in my gemoed!  Rustige aande se slaap sonder om te worry oor honde wat blaf en polisie sirenes. Kinders wat in die straat speel! Oop vensters, deure wat nie gesluit word nie.  Onbekende sekuriteit en beste van alles.... 'n toekoms!  Nie onsekerheid of vrees nie.  'n Vreedsame toekoms!!!  Dankie Australia!!!!


Monday, 21 October 2013

Tande Trauma in Suid Afrika

Sjoe, tyd vlieg.

Presies 9 maande nadat ons op ons vliegtuigie geklim het na ons nuwe land in Januarie vanjaar, het ek weer op 'n ou vliegtuigie geklim en na Suid Afrika gevlieg.  Nie omdat daar drama, trauma of krisisse is nie, maar omdat my tande nie van Australië hou nie.

Ek gaan jou nie verveel met al my tande stories nie, maar in kort sal ek net noem dat ek werklik een van die laaste mense in die ry was toe kwaliteit tande uitgedeel was. Na jare se wortel kanaal behandeling en krone en stopsels en wat-ookal-nog-gedoen-kan-word het ek nou besluit genoeg is genoeg!!! Ek is moedeloos.  Ek was skaars in Australie toe kort ek 'n stopsel. Net daarna word een van my tande grys en kraak in die middel deur.  'n Rukkie later val die helfde van die tand uit en die tandaards moes die ander deel maar trek teen 'n ongelooflike koste.  Daarna moes ek nog 4 stopsels kry.  Toe trek ons tandaards rekening al waar ek gewoonlik vir 3 of 4 jaar s'n betaal in Suid Afrika.  'n Paar weke later, toe ek 'n olyf eet (wat ongelukkig 'n pit in gehad het), byt ek die olyf en daar breek my voorste kroon mors af.  Nie los of op 'n vasplak tipe afbreek nie - mors af!

Nou ja, nadat ek maar my huil klaar gehuil het oor ek toe soos 'n uittand boemelaar lyk, moes ek plan maak en daardie plan lê nie in Australie nie, want om daardie tand te vervang kos baie geld!!!

Ek bel toe maar gou vir my neef wat 'n tandtegnikus in PTA is en hy gee my toe pryse oor nuwe tande, krone en alles is wat ek nodig het.  Nadat ek pryse met my tandaards bespreek het en 'n behoorlike vergelyking getref het, was daar net een oplossing en dit is reguit Suid Afrika toe.   Net daar bespreek ons toe maar my plek op 'n vliegtuig en hier sit ek nou pens en pootjies in die middel van my behandeling.  My besoek, spandeergeld, vliegkaartjie, 5 krone en 'n gebit kos my minder as 'n derde van wat dit in Australie sou gekos het.

Dit voel baie vreemd om terug te wees in Suid Afirka. Ek wou werklik nie so gou terug wees nie, maar omstandighede is omstandighede. Dit is darem lekker om die familie en vriende weer te sien.

Suid Afrika het baie duur geword.  Ek het nogal gedink om klere te kom koop, maar dit het ek nou maar gelos, want K-Mart, Big W, Target, Jay-Jay's en Supré is net so beskostigbaar soos Ackermans, Jet, Miladies, ens. As jy kwaliteit met kwaliteit vergelyk, dink ek dit is maar dieselfde.

Kos het baie duur geword, maar uiteet is nog steeds so lekker en goedkoop (as mens nou met Australie pryse vergelyk).

Ek het vandag lekker geshop by China Mall en daar is goed werklik nog goedkoop.

Maar nou ja, die plek het nie veel verander nie.  Ek voel nog steeds baie onveilig en ek was skaars 24uur in die land toe is ons betrokke by 'n road rage insident.  Ai, ons het vir 'n oomblik ons lewens gevrees met 'n onnosele man wat aan ons venster kom slaan het, maar het dit gelukkig oorleef om weg te jaag.

Ek verlang vreeslik na my man, kinders en ons sorgelose lewe in Sydney.

Ek kan dit self nie glo nie, maar toe die vliegtuig hier in SA land, toe besef ek .... Australia is nou my tuiste.  Ek het net kom kuier en goedkoop tande koop ....

(PS - inbox my as julle die tandtegnikus se besonderhede soek as jy dalk ook hulp nodig het)


Thursday, 9 May 2013

Vandag 4 maande in Australia

Ons is vandag al 4 maande in ons nuwe land.  Ons is goed inburger in ons huis.  Ons container en al ons meubels het gerriveer en wonder bo wonder ... die lewe gaan aan!!!

Ons het al besoekers van SA gekry en so baie het gebeur ... maar wag, kom ek begin my ons aankoms 4 maande terug.

Die vlug hierheen
Toe ons op daar die vliegtuig klim die 8ste Januarie 2013, toe voel dit of die wêreld se stress van ons skouers afval!!! Dit is 'n ongelooflike verligting om uiteindelik te wees waar jy die afgelope twee en 'n half jaar aan beplan het. 

Om te land was weer-eens baie emosioneel.  Elke keer as ons Australia toe gekom het, weet jy dit is vir 'n kort rukkie.  Nou is dit permanent!!! Hierdie is nou huis!  Dit is so 'n wonderlike, onwerklike gevoel!!!! 

Let well ... G'day Welcome Home!!!!!


Skoonfandamily
Sarel se broer en ons skoonsus saam met hul dogtertjie het ons ingewag by die lughawe.  Ek kan nie beskryf hoe lekker dit is om familie naby te hê nie.  Ek voel werklik jammer vir die mense wat totaal alleen hierdie pad aandurf.  Om iemand aan die ander kant te ken help werklik.  Ek kan ook noem dat 2 weke nadat ons geland het, het Sarel se suster en haar gesin ook geland. Hulle gaan hulsef in Canberra vestig.

Ons het sommer direk van die lughawe, ons klomp bagasie by ons huurhuis gaan sit.

Huurhuis
Ons is ook baie bevoorreg om sommer onmiddelik in 'n huurhuis in te trek. (soos in vorige post genome) Dit was in die beplanning dat ons vinnig 'n huurhuis sou kry, maar dit was ook nie so maklik nie. 

Ons huisie van voor afgeneem


1ste paar dae
Ons het daardie 1ste aand by skoonsus-hulle gaan slaap. Dit was die rustigste slaap in 'n lang tyd.  Al die stres was verby!

Skoonsus-hulle het ons huurhuis behoorlik toegerus met alles wat ons nodig het.  Ons het opblaas matrasse / beddens, kombuisware, eetkamer tafel (wat ook dien as lessenaar) en sitkamerstoele.  Skoonsus het gesorg dat ons 'n ketel, toaster, borde, eetgerei, potte en pan en "utensils" het wat ons nodig sal kry.  Die groot bonus was toe ons die kaste oopmaak en daar is 'n kas vol groceries ... alles wat mens in die eerste paar dae sal nodig kry!!! Ons is so bevoorreg en bederf met hierdie wonderlike skoonfamilie van my!!

Hulle het ons "kamp" tydperk in die huis werklik maklik gemaak.

Yskas
Ons moes redelik dringend 'n yskas kry ... so 1ste dag het ons gery om 'n Yskas te gaan soek.  'n Goedkoop een wat later sal dien as 'n "back-up" yskas (ons het 'n ordentlike yskas in die container van SA gebring).  Ons het eers na 'n plek met die naam The Good Guys gegaan. Hulle verkoop "shop damaged goods" en ook produkte wat die laaste van 'n reeks is.  Dus, die pryse is baie goed en mens kan hulle afstry.  Ons het daar 'n paar goeie yskaste teen bekostigbare pryse gesien, maar het tog besluit om ook Bing Lee se pryse te gaan vergelyk.  By Bing Lee het ons 'n yskas van oor die $900 afgestry na $600.  Mens kan ook maklik onderhandel oor die aflewerings koste en soms as mens genoeg onderhandel kry jy werklik goeie winskopies.

Die yskas het ook maar net betyds gekom, want daar was 'n vreeslike hittegolf.  Dit tempratuur het tot 45grade gegaan!!!  (gelukkig het ons dit oorleef!!!)

Ons dubbelbed
Oppad terug van Bing Lee het ons gou huis toe gegaan om 'n paar kleiner goedtjies wat ons gekoop het neer te sit.  Ons ry toe van die huis af terug en besluit om verby die laerskool te ry om te sien hoe dit daar lyk.  'n Entjie van die skool af sien ons toe 'n bed en 'n klomp ander goed op die sypaadjie. 

Nou vir die wat nog nie weet nie, in Australia doen hulle 'n 2 jaarlikste council cleanup. Dit beteken al jou goed wat jy nie meer wil hê nie of wat stukkend is sit jy op die sypaadjie en enige persoon kan dan vat wat hulle wil hê. Dit wat nie gevat word nie gaan ashoop toe.  (Onthou hier is nie 'n bediende of tuinjong wat jou 2de handse goed kan vat nie, so jy moet iets daarmee doen!!!)

Mens kan ook met die munisipaliteit reel om spesiaal by jou huis goed te kom haal, soos bv as jy trek en nie kan wag tot council cleanup datum nie.  Nou hierdie hoop was so 'n spesiale pick-up. Dit was voor 'n leë huis met 'n nota wat gesê het FREE BED. 

Ek en Sarel weet nou al gelukkig lankal oor Council clean-up / bulky goods collection - so ons was voorbereid hierop, maar om so 'n geluk te slaan binne die eerste 24uur wat ons geland het was fantasties.  Die bed was splinternuut (matras en metaal raam).  Die matras het nie 'n merkie op nie! Ek en Sarel het net een kyk vir mekaar gegee en besluit ons vat die bed!  Dan hoef ons nie op opblaas matrasse te slaap nie!!

MAAR PROBLEEM.... hoe kry ons dit by die huis (so 2 km ver)?????

Wel, ons doen maar soos ons in Afrika doen en ons dra die bed!!! (enigste verskil - ons dra dit nie op ons koppe nie). Van die metaal raam het ingepas in die kar, maar die "base" en die matras het nie ingepas nie.  Sarel het toe die metaal goed in die kar huis toe geneem en ek en Megan dra toe die bed huis toe.

Hier dra ek en Megan die bed

Megan vat 'n ruskans langs die pad!

Ons het so 1km gestap en toe is ek en Megan Poegaai!!! Sarel het die metaal base kom haal en huis toe gedra.  Daarna het hy die kar gebring en vir die laaste km het ons weer-eens ons Afrika streke uitgehaal en die matras op die dak gesit en huis toe gekry terwyl ek en Megan dit vasgehou het by die agtervensters uit.

En so lyk die opgemaakte bed (die linne het ek saamgebring in ons tas!)

Nou ja, ons het beplan om 'n ekstra bed koop, so hierdie opgetelde bed spaar ons BAIE!!! SCORE!!!!

Net vir interessantheid, ons het intussen by 'n ander woonbuurt se council cleanup gaan rondkyk en die volgende "opgetel"
  • laaikassies vir die kinders se kamer
  • 3x lessenaar stoele
  • alfa rakkies (ons het vreeslik baie van die in ons container, so hierdie is om ons gebreektes te vervang)
  • Cara het 'n Littlest Petshop storage container vir al haar Littlest Petshop speelgoed gekry
  • Sak vol hangers (goeie kwaliteit)!
  • Hout naaldwerkkas
  • Wit plastiek tuin stoele
  • en nog baie ander goedjies.
Mens kan werklik enige iets langs die pad kry.  Sommige goed is werklik voos en aaklik en hoort op die ashoop, maar as jy rondry en mooi kyk, kan jy werklik goeie kwaliteit goed kry!!!!


In tussen het ons container gekom en ons is behoorlik ingetrek in ons huis.  Ons pas goed aan.  Die kinders is op skool. Hulle loop of ry fiets skool toe en hulle is baie gelukkig.  Lyk my hulle doen ook goed, want ons kry baie goeie resultate van die skool af.

Ek vertel julle volgende keer van die container uitpak en die aanpassing.

Tot later.