Timeline

Sunday, 31 July 2011

Wees voorbereid, die einde is naby

Dit klink asof ek nou ‘n stukkie uit die Bybel aanhaal, maar ek praat nou nie oor Bybelse goed nie.  Ek praat nou oor ons Groot Wag vir ons Groot Trek.
Sien, ons het laas jaar (2010) in Julie besluit ons gaan aansoek doen om te emigreer.  In Augustus het ons die emigrasie agent gesien. In September 2010 het ons formeel die proses begin en 10 maande later … viola… ons het ons Visums om permanent onsself in Australia te vestig.
Nou ja, enige persoon wat al deur hierdie proses is weet dat dit nie kinderspeletjies is nie en dat dit ‘n konstante gerondskarrel is om die regte dokumente op die regte tyd by die regte plek te kry.
Ek is nou glad nie ondankbaar dat die proses so vinnig gegaan het nie, maar die spoed het ‘n klein probleempie geskep:  Ons is nog nie reg om te gaan nie.
As dit van ons afhang, sal ons more ons goedjies pak en gaan, maar ongelukkig moet ons eers wag dat Sarel sy besigheid uitsorteer en die ander groot probleem is om die huis verkoop te kry.   
Die huis is al sedert Januarie 2011 in die mark.  Ons het nog net 2 mense gekry wat kom kyk het!  Ek het van die begin geweet ons gaan sukkel om die huis te verkoop maar ek het werklik nie gedink dit gaan so stadig gaan nie.  Ek is nou nie die geduldigste mense nie, maar soos ons almal weet, om huis te verkoop moet jy geduldig wees. Nou ja, hier sit ek. Ek is geduldig, maar gefrustreerd want ek weet nie wanneer die einde gaan kom nie.
‘n Mens leef elke dag met die wete dat die einde naby is (of dalk ver is) en gevolglik is ons maar elke dag voorbereid.  (Klink al weer asof ek uit die Bybel uit preek maar ek praat nou hier van ons voorbereiding op ons groot trek, nie my geestelike lewe nie. Maar hier is beslis ‘n geestelike les uit te leer!)
Net so filter hierdie voorbereiding en wag op die einde, in ons daaglikse lewe in. ‘n Week of wat gelede gaan ek na die plaaslike SUPERSPAR om die gewonde brood en melk en wat-ook-al te koop.  Daar sien ek toe groot Dettol Koekies seep met ‘n 50% discount vir elk.  Wat ‘n bargain?!!!  ‘n Vinnige voorraad berekeing laat my onthou dat ons seep voorraad by die huis laag is en ek besluit om sommer ‘n hele klomp van die seepies te koop.  (My ma het my geleer om op groot maat te koop as ek ‘n goeie special sien).
Voordat ek by die betaalpunt kom, ruk iets my tot stiltand.
Ons gebruik hierdie grote seep teen ‘n tempo van ongeveer 1 per maand. As ek hierdie koop is dit meer as 'n jaar se voorraad. Wat as ons nou binnekort die huis verkoop en ons trek binne 6 maande? Dan het ek te veel seep!!!! Kan ‘n mens seep saamtrek?  Is dit nodig om seep saam te trek? As ek nou die ekstra seep gekoop het, en ons trek vinniger as wat ons nou dink, dan het ek geld gemors.  Hoeveel sal dan ‘n goeie hoeveelheid wees om te koop? 6 of 12. 
Ek besluit toe op genoeg vir so paar maande se voorraad. Jip, ek voel gemaklik met dit. 
En so wurm die wete dat die tyd naby is in elke dag se beluite. Ek weet die einde is in sig. Ek weet net nie wanneer nie en tot dan, leef ek maar met die wete dat dit enige dag kan wees.

Saturday, 30 July 2011

Blogging

Eerder laat as nooit.
Ek het eers onlangs die interessante wêreld van blogs ontdek.  Man, is ek nou beïndruk met die goetertjies. Ek het voorheen so hier en daar al iets gelees en weet natuurlik wat blogs is, maar nou is ek versot daarop. As ek op ‘n interessante blog afkom, met goeie skryfstyl, dan begin ek van dag een af en lees my pad tot vandag of die laaste inskrywing toe.
‘n Mens kan soveel leer van ander.  Selfs net om te besef daar is ander in dieselfde bootjies as jy of ander wat slegter af is – dan besef mens, ons is nie altyd dankbaar genoeg  vir dit wat ons het nie.
Hierdie blogging stokpertjie is vir my beter as om ‘n goeie boek of ‘n lekker autobiografie te lees.  Selfs beter as movies toe gaan….  (sommige!)
In elk geval, ek is ‘n “late blogger”.  Maar ten minste het ek die stokperdjie nou ontdek en ek gaan my bes probeer om jare se agterstand intehaal (“intelees”)

Tuesday, 26 July 2011

ONTWORTEL

Na ons terugkeer van ons vakansie in Australië in Julie 2010, het ek ‘n nuwe persepsie oor ons land gehad.
Nie almal moet eers land uit om anders te dink nie. Sommige bereik 'n ander persepsie terwyl hulle hier woon.  Ander gaan land uit en kom terug met ‘n nuutgevonde positiewe persepsie oor Suid Afrika.  My persepsie met ons terugkeer was anders, nie noodwendig positief of negatief nie. Net anders.  
Dit voel egter vir my of “Pandora se boks” oopgemaak is.  Ek het iets raakgesien en ervaar wat nie ontdoen kan word nie. Ek is, voel en dink anders. 
Ek het ‘n ander begrip of insig gekry. Dit is moeilik om my emosies te verwoord, maar ek weet hoe ek verander het.
Moet my nie verkeerd verstaan nie.  Ek is lief vir Suid Afrika.  Dit is my geboorteland. Dit is die land waarvoor my voorvaders oorloë gevoer en gesterf het.  Dit is die land wat my gevorm het tot die persoon wat ek vandag is. Maar ……. die land wat ek van praat is nie meer daar nie. 
Die land waarin ek groot geword het is anders.  Ek het nou eers besef dat ons almal maar eintlik sedert 1994 klaar geëmigreer het.  Dit was net ‘n baie stadige proses wat ek nie besef het ek in is nie.  Met elke idiaal wat weggeneem is, met elke straat naam wat verandar het, met die verandering van die skool stelsel, met elke “pakkie” wat aan wit werknemers geoffer was, met elke TV kanaal wat verander het …. Dit is hoe ons emigreer het. Ons het net nog nie land verlaat nie.
Laat my dink aan die storie oor die paddatjie wat in ‘n pot water op die stoof swem.  Hy besef nie dat die water warm word nie. Nie totdat dit te laat is nie en dan kan hy nie uit die kookwater kom nie. 
Wel, ek het nou besef dat ek in ‘n kookpot is.  Ek wil hier uit voor ek kook.
Dit maak my hartseer om tot hierdie besef te kom, maar dit is hoe ek dit sien. Ons is ‘n volk sonder ‘n land.  Dit voel of my geskiedenis nie meer belangrik genoeg is om in die geskiedenis te wees nie. En wie is 'n mens nou sonder 'n geskiedenis?

Ander mag dalk nie voel soos ek voel nie of mag dalk tot dieselfde besef gekom het, maar is teverede met die land soos dit is.  Elkeen is geregtig op hul eie emosies en idees.
Dit het my wel ‘n lang tyd geneem om dit te besef, maar ek is klaar ontwortel.  Ek is nou reg om my wortles elders te gaan vestig.  Dalk kan ek weer daar tuis voel.

Saturday, 23 July 2011

Misdaad


Tot nou toe was ons gelukkig genoeg om nie deur misdaad in Suid Afrika geraak te word nie.
Ek het dit geglo en vir vriende vertel dat misdaad nie die rede is dat ons wil emigreer nie.
So siek as wat dit is, aanvaar ons almal maar dat die inbraak of kar steel deel is van ons lewe.  Wanneer mens begin vermoor word, verkrag word of gewond is in 'n kaping, word dit ernstig vir ons.
Ek het eendag gehoor dat sommige mense van hul PS praat.  Dit is nou hul Personal Story oor misdaad.  Amper almal in Suid Afrika het seker al 'n PS. Hulle het nog net by ons ingebreek (geen groot skade of trauma nie) en gevolglik is my misdaad PS nie goed genoeg vir "dinner party converstation" nie en ook nie om land te wil verlaat nie … dit is nou hoe ek gedink het.
Volgens my, raak misdaad my nie, want nog niks "ernstig" het met ons gebeur nie.
Toe gaan ons een dag na Aaron se baseball wedstryd kyk en ek kry ‘n SMS van my buurvrou dat hulle vroeer die dag by iemand in ons estate ingebreek het.
Net daar draai ek om en sê vir Sarel: “Ons moet huis toe gaan om te kyk of alles OK is by ons.”
Sy reaksie … “Oja, en jy sê misdaad het jou nog nie affekteer nie”
Ek het my woorde gesluk en besef. Ons is so gewoond aan die ongewone dat ons nie eens meer besef dit raak ons nie.

Hoekom emigreer ons?

Om tot die besluit te kom om te emigreer is nie noodwendig maklik nie. 
Sommige doen dit omdat dit die “flavour of the day/month/decade” is.  Ander doen dit omdat boetie, sussie, vriend of vriendin dit doen. Jy weet, daardie “keeping up with the Jones's” situasie.
Daar is natuurlik die groep wat dit doen vir politieke redes, soos dat hulle nie onder ‘n swart regering wil woon nie, of omdat hulle nie tevrede is met hoe die regering ons land regeer nie.
Daar is die wat dit doen vir hul kinders of om hul eie toekoms te verbeter. Vir beter werksomstandighede of om weg te kom van die BEE, wat soos ‘n spook altyd maar hier oor die skouer in die wit man se nek blaas.
Dan is daar die netelrige sakie oor veiligheid.  Daar is ‘n groot groep wat trek omdat Suid Afrika nie meer veilig is nie. 
Toe ons laas jaar in Australië vakansie gehou het, hoor ek Afrikaanse mense op die ferry.  Ek maak toe ‘n punt daarvan om met hulle te gesels.  Met die uitvra en gesles hoor ek toe dat hulle nou al 3 maande in Sydney bly.  Toevallig het hulle in Suid Afrika minder as ‘n kilometer van ons af gebly.  Klein wêreld, nê?  Ek het hierdie mense op ons 3de aand in Oz ontmoet en het nog nie veel besef waarheen die vakansie my gaan ly nie. Die vrou vra toe vir my of ons nou ook gaan emigreer.  Toe ek sê dat ons nog nie daaroor gedink het nie was haar “verkoopspunt” aan my: “Sjoe, hoe kan jy nie weet nie, kyk hoe skoon is dit hier.”
Nou ja, hulle mag dalk baie aangename mense wees, maar ek het op daardie stadium my moer gestrip en beleef gegroet en by my gesin gaan staan.  Hoe kan ek nou ‘n lewens besluit soos emigrasie op die skoonheid van ‘n stad bepaal?
Laas Sondag het ‘n vriend vir my gevra waarom emigreer ons.  Ek vra toe vir hom die lang of kort storie. Hy wil toe die kort rede hoor.  Ek het gebrand om vir hom te se dat die kort rede is: Malema… maar eitlik is die nie die rede nie.  Die kort rede is seker maar om ‘n beter toekoms vir die kinders te skep.
Die lang rede is ‘n kombinase tussen al die redes bo genoem.  Daar is nie een enkele ding wat ek voel wat my uit die land dryf nie.  Daar is mense wat beroof word of iemand wat hulle ken word vermoor en dan trek hulle!
Dit was nie so met my nie.  Die besluit was ‘n proses.  In Australië voel mens veilig, mens kan sien wat met jou belasting geld gebeur. In Australië sal ek saam met mense wees wat eerste wêrelds dink en regeer.  Die fokus in Australië is op werklike ontwikkeling van elke mens en voortuitgang van die land en nie wie het die grootste toilet boo-boo gemaak nie of wie kan die meeste persoonlike geld maak uit hul posisie en connections in die regering nie.
Ek het in ‘n eerste wêreld groot geword.  My denkwyse is eerste wêrelds.
Eers toe ek vir 3 weke in ‘n eerste wêreld vakansie hou besef ek hoe min ons nou meer in ‘n eerste wêreld woon.
Ek smag om weer in ‘n eerste wêreld te woon. Toe ek dit besef, was my emigrasie besluit maklik.

Die groot "E" woord

Nooit het ek gedink dat ek ook in hierdie Groot Trek gaan beland nie. 
In teen deel, ek onthou goed dat toe ek in Durban gewerk het, het ‘n kollega van die supplier maatskappy kom groet. Dit was sy laaste dag en die volgende week trek hy en sy gesin na Australia of New Zealand of iets.  Dit was in 2003 of 4. Ek kan nou nie die datum onthou nie, maar dit maak ook nie eintlik saak nie. Ek het die man aangekyk, beleef gegroet. Sterkte en voorspoed aan hom en sy gesin toegewens, omgedraai en voortgegaan met my werk. My gedagtes was:  “Daar gaan nog een.  Laat hulle gaan, dit los meer geleenthede vir my en my gesin.” 
Ek het nooit gedink dit is verkeerd nie.  Nog het ek gedink dit is swak mense of sterk mense.  Ek het eintlik nie ‘n groot opinie oor die hele aangeleentheid gehad nie.
Jan, my oorlede man, het gereeld met buitelandse werksopsie vorendag gekom.  Hy wou trokke in die sneeu in Kanada en Amerika gaan bestuur. Daar was opsies om Krappe te gaan vang in die yskoue Noorde.  Om op ‘n Oil rig te gaan werk.  Al daardie werke is nou op Discovery Kanaal te sien.  Noudat ek so na daardie programme kyk, dink ek Jan sou dit gemaak het.  Hy was avontuurlustig en het energie vlakke gehad wat bo-natuurlik is. 
My reaksie was altyd wat van my en die kinders?  Hoe sou ek maande sonder hom reg kom?  Hierdie emosies van my in ag geneem, kom hy toe een dag met pamflette, inliging en aansoekvorms by die huis aan.  Dan trek ons maar as gesin Australië toe, want dan kan hy trokke in die Outback gaan bestuur.  Ek het seker so 1 sekonde daaroor gedink en my antwoord aan hom …. Nee, die kinders moet hul grootouers ken en ek gaan nie duisende kilometers van my en sy ouers af trek nie.
Alhoewel ek goed oor die weg gekom het en van my onafhanklikheid gehou het, was dit swaar om te sien hoe moeilik dit vir die ouma’s en oupa’s was dat ons net 500 km ver van hulle af woon in KZN.  Dit is net so 5 of 6 uur se ry.  Hoe gaan dit nou werk as dit ure se vlieg is?
Nodeloos om te sê, my opinie het nooit vir Jan gestop om aan te hou soek na daardie iets wat sy dors na avontuur sou les nie.  Hy het na die Australië storie nog vele ander idees gekry. Kort voor sy dood in 2005 het hy en ‘n vriend probeer om ‘n besigheid te begin om staal van KZN af na Gauteng te vervoer.  Grootendeels vir die sokker world cup wat toe nog redelik ver in SA se toekoms lê.  Hy is toe oorlede terwyl hy nog die saak nagevors het.
Toe ek Sarel leer ken het, het ek dadellik besef dat hierdie man se kop ook oorsee se kant toe staan.  Maar dit was nie sy avontuurlustigheid nie.  Sarel se ma is Nederlands en sy begrip oor ander lande is van kleins af baie anders as myne.  In teen deel. Die verste wat ek al uit Suid Afrika was toe ek Sarel ontmoet het was vir die 3 weke wat ek in 1997 vir Jan in Namibië gaan kuier het. Dit was ‘n heerlike 3 weke in die caprivi, (Jan het daar help bou aan die teer pad) maar dit was niks anders as om in die bosveld te wees nie. Geen kultuur verskille, geen ontwikkelings verskille .. niks.
Sarel was al in soveel ander lande. USA, Mexico, Rusland, die hele Europa en ‘n bietjie in die ooste.  Ook al Afrika getoer. Sy internationale ondervinding was as toeris en vir besigheid.  Hy het al voorheen  vir so half jaar in London gewoon en gewerk.  Kanada was ook ‘n opsie om na te emigreer.  Hy het total ander opinies oor emigrasie as ek.
Ek en Sarel kry toe ‘n geleentheid in 2007 om na Griekeland en Engeland te gaan. Die Grieke het my irriteer. Ons was net in Atene en het ongelukkig nie tyd gehad om die eilande te besoek nie.  Sarel was daar vir training en nie sightseeing nie. Ek het nou nie eintlik ‘n gevoel gekry dat dit nou so anders "eerstewêrelds" as ons eie land is nie. Op looks alleen het dit soos Kaapstad vir my gelyk en voel.  Ons pragtige Tafelberg was vervang met die Parthenon. Kaapstad is net beter versorg. In Atene is die mense se tuine onversorg.  Die karre is vuil en maande laas gewas.  Die Grieke het nou nie eintlik probeer vriendelik wees nie. In die winkel sentrum wat hulle vir die olimpiese spele gebou het, het die sekuriteits man agter my aangeloop asof ek 'n krimineel was ???  Hulle was net vriendelik in die toeriste deel, Plaka … seker omdat hulle ons geld wou hê. Die kos was vreeslik lekker! Maar nou ja, dit was maar die eerste “oorseese” land wat ek sien en ek was bereid om die res van ons trip met ‘n oop gemoed te sien.
Ons volgende stop was London, net vir 4 aande.  Dit was heerlik.  Die mense was vriendelik en hulpvaardig.  Ons het fantastiese weer gehad en dit was baie lekker.  Ons het vir Sarel se vriende in ‘n woonbuurt buite London gaan kuier en dit was goed om te sien hoe mens leef in ‘n ander land.  Nie net om ‘n toeris te wees in hotelle, ens. nie.
Hier kon ek myself sien bly … maar net vir ‘n rukkie, ek wil weer terug Suid Afrika toe na ‘n paar jaar se ondervinding.  My idee was om dalk vir 2 jaar of so daar te bly, die kinders geleentheid te gee om Europa te sien en dan, terug te trek.
Daardie e-woord: E-M-I-G-R-A-S-I-E … ja, daardie een, dit is nie vir my nie, dankie.  Laat die ander maar gaan…
My wortels is in Suid Afrika. 
……. Of is dit?

Friday, 22 July 2011

Hoe werk die gesin?

Vir die wat nie weet nie:

Ons is 'n moderne saamgestelde gesin met 'n "my kinders" en "jou kinders" setup.  Daar is gelukkig geen "ons kinders" nie. (Net "ons honde" J)

Dit is ook eintlik meer kompleks as net jou kinders en my kinders. 
Ek is seker daarvan om die res van die blog soms te verstaan of in perspektief te sien, moet die wat nog nie weet of verstaan hoe ons gesin werk nie, dalk net weet wie is wie.

Eerstens is daar ek, Chantel en ek is getroud met Sarel.  Ons sal in Augustus 4 jaar getroud wees.

Ek het 2 dogters - Neré (9jr) en Cara (8jr) (Neré uitgespreek soos René - ruil net die R en N om). Hulle pappa is in die Hemel en hulle het nou 'n aardse pappa, my nuwe man, Sarel. Hulle noem Sarel "daddy" en het self besluit dat "oom Sarel" eerder hul Daddy moet wees.

Sarel het 2 kinders uit sy eerste huwelik, Aaron (16jr) en Megan (12jr).  Megan noem my Channa.  Dit was my eerste man, Jan, se bynaam vir my en nadat sy dit uitgevind het, is dit nou maar haar troetelnaampie vir my.

Megan bly so half by ons en so half by haar ma.  Dit is nou al so vandat sy 7 jaar oud is en dit werk vir ons. Ek en Megan het 'n wonderlike verhouding.

Aaron bly voltyds by sy ma. Ons sien hom darem gereeld.

Sarel se eks vrou het ingestem dat die kinders saam met ons emigreer.  Dus, het ons vir 6 van ons visums aansoek gedoen.

Terloops, indien julle meer wil lees oor wie en wat ons is, kyk gerus op die Engelse blog.

Tot later....

2 Blogs?

Ja, dit klink nou na harde werk om 2 blogs vol te hou, maar daar is werklik “method in the madness”.
Die saak staan so: Vandat ons besluit het om te emigreer, het ek dagboek gehou oor my emosies, idees, vrese en wat-ook-al-nog. Ek kon dit net nie publiseer in ‘n blog of iets nie. Ons wou eers al ons geliefdes en belangrike persone in ons lewens vertel van ons besluit.  Alhoewel meeste mense van die werk ook nog nie van ons planne weet nie, het ek nou maar besluit om my gevoelens te begin deel. 
Omdat Afrikaans nou maar my moeder taal is kan ek myself net eenvoudig beter in Afrikaans uitdruk … maar … daar is ook Engelse vriende en kennise en ek wil hulle ook in die prentjie hou. Oja, en as gevolg van jare se Engels dink en werk en tik, is my tikspoed vinniger in Engels. Vreemd, nê?  Maar laat ek julle nou al waarsku. As julle dink dit gaan ‘n suiwer Afrikaanse blad wees, dink twee keer.  Ek mix my tale en het eintlik geen sin van spelling nie.  Hoop julle cope met dit J.
Siende dat ons kinders ook in ‘n Engelse skool is en dat veral die jonger klompie nie eintlik Afrikaans kan lees nie, wil ek ook graag hulle insluit by my blog.  Hulle sal seker maar die Engelse een meer lees.
Verder, indien daar ook die paar “vreemdelinge” is wat my blog wil volg, kan hulle ook maar doen in die taal wat vir hulle gemaklik is.
Ons sal maar sien hoe lank die 2 blogs aanhou. Dalk loop een van hulle dood of dalk doen ek goed genoeg en hou altwee aan die gang. 
Daar is 2 hoof redes hoekom ek hierdie blog/s doen. 
Rede Nommer 1: Om my familie, vriende en kennise te laat weet hoe ons vorder met ons voorbereidings vir die emigrasie en wanneer ons nou eendag daar oor die watertjies in Sydney settle, dan kan wie ook al lees oor hoe ons aanpas of in die grond duik J.

Rede Nommer 2: Ek het ‘n vriendin/eks-buurvrou, wat na Melbourne getrek het, se blog gelees en sommer BAIE geleer.  En dit ook sommer net geniet om te lees en te ervaar wat nog vir ons voorlê. Dus, hopelik kan ek ook iemand help met my ervarings.  Siende dat die Groot Trek al weer na amper 200 jaar aan die gang is (hierdie keer met beter tegnologie), sal daar seker die enkeling wees wat wel iets leer.

Thursday, 21 July 2011

Facebook Status

Maandag, 11 Julie 2011 lui my facebook status as volg: “Vandag is die eerste dag van die res van ons lewens..... dit gaan nooit weer dieselfde wees nie!!!!!”
Aangesien ons maar stil was oor die rede vir die stelling, weet meeste FB vriende nie waaroor die stelling gaan nie.  Sommige het dadelik geweet. 
Die rede: Ons gesin se Australian Permanent Resident Visas is goed gekeur. Na maande se rondskarrel en lang wag het ons dit!!!!
Ons is so opgewonde en het die aand gaan uiteet om dit te vier.  Ons NUWE lewe begin nou.
Alhoewel ons nog ‘n ruk in Suid Afrika gaan bly om 'n klomp goed uit te sorteer, kan ons ten minste nou met meer versekering begin planne maak.
‘n Jaar gelede, in Junie en Julie 2010, het ons as gesin in Australie gaan vakansie hou.  Ons het my swaer (Sarel se broer) en skoonsus belowe ons sal vir hulle gaan kuier waar hulle in Sydney woon, maar ons het nooit besef watter groot impak die kuier op ons lewens sal hê nie. Die besluit om aansoek te doen om te emigreer het nie oornag gebeur nie.  Dit was meer soos ‘n 3 weke proses.  Na elke dag en vakansie aktiwiteit het ons meer en meer begin voel ons wil dit doen.  Toe ons ons voete terug sit in Suid Afrika op die 12de Julie 2010 was ons besluit reeds geneem en ons het dadelik met ons aansoek begin.
Nou, ‘n jaar later, sit ons met ons visums in ons hande en ons is opgewonde oor ons toekoms