Timeline

Saturday, 23 July 2011

Die groot "E" woord

Nooit het ek gedink dat ek ook in hierdie Groot Trek gaan beland nie. 
In teen deel, ek onthou goed dat toe ek in Durban gewerk het, het ‘n kollega van die supplier maatskappy kom groet. Dit was sy laaste dag en die volgende week trek hy en sy gesin na Australia of New Zealand of iets.  Dit was in 2003 of 4. Ek kan nou nie die datum onthou nie, maar dit maak ook nie eintlik saak nie. Ek het die man aangekyk, beleef gegroet. Sterkte en voorspoed aan hom en sy gesin toegewens, omgedraai en voortgegaan met my werk. My gedagtes was:  “Daar gaan nog een.  Laat hulle gaan, dit los meer geleenthede vir my en my gesin.” 
Ek het nooit gedink dit is verkeerd nie.  Nog het ek gedink dit is swak mense of sterk mense.  Ek het eintlik nie ‘n groot opinie oor die hele aangeleentheid gehad nie.
Jan, my oorlede man, het gereeld met buitelandse werksopsie vorendag gekom.  Hy wou trokke in die sneeu in Kanada en Amerika gaan bestuur. Daar was opsies om Krappe te gaan vang in die yskoue Noorde.  Om op ‘n Oil rig te gaan werk.  Al daardie werke is nou op Discovery Kanaal te sien.  Noudat ek so na daardie programme kyk, dink ek Jan sou dit gemaak het.  Hy was avontuurlustig en het energie vlakke gehad wat bo-natuurlik is. 
My reaksie was altyd wat van my en die kinders?  Hoe sou ek maande sonder hom reg kom?  Hierdie emosies van my in ag geneem, kom hy toe een dag met pamflette, inliging en aansoekvorms by die huis aan.  Dan trek ons maar as gesin Australië toe, want dan kan hy trokke in die Outback gaan bestuur.  Ek het seker so 1 sekonde daaroor gedink en my antwoord aan hom …. Nee, die kinders moet hul grootouers ken en ek gaan nie duisende kilometers van my en sy ouers af trek nie.
Alhoewel ek goed oor die weg gekom het en van my onafhanklikheid gehou het, was dit swaar om te sien hoe moeilik dit vir die ouma’s en oupa’s was dat ons net 500 km ver van hulle af woon in KZN.  Dit is net so 5 of 6 uur se ry.  Hoe gaan dit nou werk as dit ure se vlieg is?
Nodeloos om te sê, my opinie het nooit vir Jan gestop om aan te hou soek na daardie iets wat sy dors na avontuur sou les nie.  Hy het na die Australië storie nog vele ander idees gekry. Kort voor sy dood in 2005 het hy en ‘n vriend probeer om ‘n besigheid te begin om staal van KZN af na Gauteng te vervoer.  Grootendeels vir die sokker world cup wat toe nog redelik ver in SA se toekoms lê.  Hy is toe oorlede terwyl hy nog die saak nagevors het.
Toe ek Sarel leer ken het, het ek dadellik besef dat hierdie man se kop ook oorsee se kant toe staan.  Maar dit was nie sy avontuurlustigheid nie.  Sarel se ma is Nederlands en sy begrip oor ander lande is van kleins af baie anders as myne.  In teen deel. Die verste wat ek al uit Suid Afrika was toe ek Sarel ontmoet het was vir die 3 weke wat ek in 1997 vir Jan in Namibië gaan kuier het. Dit was ‘n heerlike 3 weke in die caprivi, (Jan het daar help bou aan die teer pad) maar dit was niks anders as om in die bosveld te wees nie. Geen kultuur verskille, geen ontwikkelings verskille .. niks.
Sarel was al in soveel ander lande. USA, Mexico, Rusland, die hele Europa en ‘n bietjie in die ooste.  Ook al Afrika getoer. Sy internationale ondervinding was as toeris en vir besigheid.  Hy het al voorheen  vir so half jaar in London gewoon en gewerk.  Kanada was ook ‘n opsie om na te emigreer.  Hy het total ander opinies oor emigrasie as ek.
Ek en Sarel kry toe ‘n geleentheid in 2007 om na Griekeland en Engeland te gaan. Die Grieke het my irriteer. Ons was net in Atene en het ongelukkig nie tyd gehad om die eilande te besoek nie.  Sarel was daar vir training en nie sightseeing nie. Ek het nou nie eintlik ‘n gevoel gekry dat dit nou so anders "eerstewêrelds" as ons eie land is nie. Op looks alleen het dit soos Kaapstad vir my gelyk en voel.  Ons pragtige Tafelberg was vervang met die Parthenon. Kaapstad is net beter versorg. In Atene is die mense se tuine onversorg.  Die karre is vuil en maande laas gewas.  Die Grieke het nou nie eintlik probeer vriendelik wees nie. In die winkel sentrum wat hulle vir die olimpiese spele gebou het, het die sekuriteits man agter my aangeloop asof ek 'n krimineel was ???  Hulle was net vriendelik in die toeriste deel, Plaka … seker omdat hulle ons geld wou hê. Die kos was vreeslik lekker! Maar nou ja, dit was maar die eerste “oorseese” land wat ek sien en ek was bereid om die res van ons trip met ‘n oop gemoed te sien.
Ons volgende stop was London, net vir 4 aande.  Dit was heerlik.  Die mense was vriendelik en hulpvaardig.  Ons het fantastiese weer gehad en dit was baie lekker.  Ons het vir Sarel se vriende in ‘n woonbuurt buite London gaan kuier en dit was goed om te sien hoe mens leef in ‘n ander land.  Nie net om ‘n toeris te wees in hotelle, ens. nie.
Hier kon ek myself sien bly … maar net vir ‘n rukkie, ek wil weer terug Suid Afrika toe na ‘n paar jaar se ondervinding.  My idee was om dalk vir 2 jaar of so daar te bly, die kinders geleentheid te gee om Europa te sien en dan, terug te trek.
Daardie e-woord: E-M-I-G-R-A-S-I-E … ja, daardie een, dit is nie vir my nie, dankie.  Laat die ander maar gaan…
My wortels is in Suid Afrika. 
……. Of is dit?

No comments:

Post a Comment