Timeline

Sunday, 28 August 2011

Visum aansoek: Privaat of Agentskap

Baie mense kyk ons met ‘n groot vraagteken aan as ons noem dat ons deur ‘n immigrasie agent gewerk het om ons Visum te kry. (Ons het 'n 176 NSW State sponsored Skilled Visum)
Ek weet dit kos baie geld, maar hier is ons storie oor hoekom ons ‘n immigrasie agent gebruik het.
Die eerste keer toe vir ‘n konsultasie gaan by ons agent, was sy eerste vraag aan ons: “Wil julle emmigreer omdat dit DRINGEND is of omdat julle dit as VERSEKERING wil hê?”
Die antwoord op daardie vraag bepaal grootliks hoe vinning dit jou in Australia kan kry: Dus watter visum aansoek ‘n mens voor moet aansoek doen. Soos ek verstaan is daar baie visums opsies, maar daar is verskillende tydslyne gekoppel aan die verskillende visum aansoeke.
Ek kan nie vir enige persoon sê om eerder ‘n agent te gebruik as om dit self te doen nie, maar hier is ‘n paar redes hoekom ons van ‘n agent gebruik gemaak het.
·         Ons tyd was beperk as gevolg van ouderdom. Sarel was reeds 42 teen die tyd dat ons besluit het om aansoek te doen en ons het die beste kans gestaan om met sy skills in te kom. (onthou, in meeste gevalle mag jy net aansoek doen totdat jy 45 is) Siende dat die proses maande en selfs jare kan neem, wou ons nie die kans vat om ‘n fout te maak nie en gevolglik het ons eerder in die kennis van ‘n betroubare agent belê.
·        Ons was nie 100% seker oor al die fynere besonderhede oor die aansoek prosess nie dit vat baie tyd om tred te hou met al die veranderings in die immigrasie wette. Dit was tyd wat ons nie gehad het nie.
·        Ons het ‘n komplekse gesin setup en wou seker maak dat ons al die kinders korrek insluit en al die regte prosesse volg.
Indien mens teen tyd werk soos byvoorbeeld as gevolg van ouderdom of as jy voor ‘n sekere tyd jou kinders in die skool wil hê, sal ek voorstel dat mens eerder ‘n agent gebruik. 
Daar is niks daarmee verkeerd om dit self te wil en kan doen nie. Daar is baie wat dit baie suksevol alreeds gedoen het. Mens spaar ten minste baie geld daardeur, maar maak seker dat jy genoeg navorsing doen en genoeg tyd het om foute te maak.
Ons agent het dit vir ons uit gewys dat “agent aansoeke” op geen stadium voorkeur kry by die Australiese immigrasie department nie. Die enigste voordeel is dat die korrete vorms en formaat deur ‘n agent ingevul word.  Dus staan mens ‘n groter kans om die visums vinniger te kry.
Ek weet daar is BAIE mense wat geld verloor het as gevolg van agente en hier is my persoonlike tips om jou te help om ‘n betroubare agent te soek.
1.    Jy moet ten minste 1 suksessvolle verwysing hê van ‘n agent. Nog beter as die verwysing ‘n kennis, vriend of familie lid is.
2.    Ek vertrou nie sommer iemand wat my duisende rande vra vir ‘n inisiële konsultasie nie.  Dink goed daaroor. Daar is agente daar buite wat goedkoop konsultasies vra.
3.    ‘n Agent wat uit Australië werk MOET geregistreer wees onder “The Migration Agents Registration Authority” (www.themara.com.au). ‘n Betroubare agent sal dus ‘n MARA nommer hê. Die nommer kan nagegaan word.  Hierdie agente werk onder ‘n “code of conduct” en indien hulle nie aan die standaarde voldoen nie, mag hulle nie verder werk nie. Daar is baie Suid Afrikaaners wat dus uit Australie werk onder hierdie registrasie en standaarde. Hierdie agente word die heel tyd op hoogte gehou van die nuutse verwikkelinge in die immigrasie proses.
4.    Buite Australie hoef die agente nie geregistreer te wees nie, maar baie van hulle is en kyk uit vir ‘n agent wat geregistreer is.  Baie behoort aan ‘n professionele liggaam met die naam Migration Institute of Australia (www.mia.org.au). Hierdie geregistreerde agente kry al die nodige inligting oor die gereelde veranderinge in die aansoek proses en mens kan aanneem dat hulle vinniger weet wat aangaan as die agente wat nie die inliging direk van die immigrasie autoriteite kry nie.
5.    Hierdie agent is iemand wat met jou mees intieme en sensitiewe inligting gaan werk en maak seker dit is iemand wat jy kan vertrou.
Ten slotte, ek het familie en vriende wat die proses self probeer het en geslaag het, maar daar is ook wat nie geslaag het nie en gevolglik belangrike mylpale gemis het.
Ek hoop bogenoemde inligting kan jou help besluit.
Indien jy die naam en besonderhede wil hê van die agent wat ons visum aansoek gedoen het, los ‘n boodskap met jou email adres.  Ek sal die boodskap “onderskep” en die besonderhede vir jou stuur.

Thursday, 25 August 2011

Varkie Geld

Vandag, ‘n storie wat nou nie regtig met ons emigrasie te doen het nie, maar nogtans interessant.
Dit is amazing om te sien hoeveel geld mense weg gooi! Letterlik
In Januarie 2010, het ek ‘n groot pienk spaar vark gekoop, om die kinders te leer om te spaar vir ons Australië vakansie. Ek het vir die kinders ‘n swart merkpen gegee en gesê maak dit ons Australië spaar varkie. Sien foto’s van ons pienk varkie.


My oudste dogter is ‘n regte kraai.  Alles wat blink word opgetel en 99% is daardie blink optel goedjies regte geldjies.  Sy tel sommer maklik in een Saterdag middag by die winkel sentrum so tussen R1 of R2 in klein geld op.  Meestal ‘n paar bruin 5 sente of ‘n 10c of 2. Laas jaar in Australië het sy meer as $5 in los kleingeld oor ‘n tydperk van 3 weke opgetel. (Dit is R35+!!!!!)
So het dit maar tradisie geword dat hierdie optelgeld, pienk varkie toe gaan en nou noem ons alle optel geld, “varkie geld”. Die hele familie deel nou al aan die varkie geld ritueel.
Ons het toe nooit die varkie se magie oopgesny vir ons vakansie laas jaar nie, maar het besluit om aan te hou spaar vir ons volgende vakansie.  Almal tel nou varkie geld op.
Vandag moes ek gou iets gaan doen by ‘n mall in Randburg. Van die parkering, tot by die winkel en terug het ek 55c opgetel.  Alles varkie geld – lê nou lekker in Varkie se magie.
Soms sit ons los kleingeld van ons beursies daarin, maar meeste is optelgeld. Ek vermoed dat hierdie optelgeld maklik meer as 80% van die varkie se geldmagie uitmaak. Sy magie is so halfpad vol! (Dit is regtig 'n groot vark)
As ons eendag daardie varkie slag, sal ek julle vertel hoeveel varkie geld ons bymekaar gemaak het.  

 

Oink - tot later.....

Monday, 22 August 2011

Strike season

Ons is alweer in “strike season” en dit laat my dink aan hoe ons dit verlede jaar ervaar het.
Laas jaar toe ons tydens die Sokker World Cup met vakansie was in Australië het ons nog getrou elke Vrydag ons “soccer Friday” hempies gedra.  (Sien foto van ons klompie by 'n cupcake winkel in Sydney - die eerste Vrydag)

Die eerste Vrydag in Sydney, loop ons toe al 5 in ons geel hempies in die straat na die Sydney Tower. Mense groet ons spontaan en vra uit oor die Sokker World Cup. Een uitstaande oomblik was toe ‘n Auzzie ons hande skud en ons geluk wens met ‘n baie suksesvolle World Cup.  Man, dit is nou wanneer mens werklik NASIE TROTS ervaar.
Ons het die oggend na die finale wedstryd terug gekeer en was nog steeds bly en opgewonde oor hoe wonderlik die res van die Wêreld ons World Cup ervaar het.
Tot ons “strike season” tref.  Dit was tydends daardie vreeslike strike van die staatsamptenare, insluitend onderwysers, verpleeg personeel ens.  Kinders kon nie skool toe gaan nie, matrieks se hele skoolopleiding was in gedwang geplaas.  Mense het doodgegaan in hospitale wat nie beman was nie.  Vrywilligers in skole en hospitale was aangerand.
Hoe leef mens as deel van ‘n nasie wat nie hul kinders wil opvoed en siek mense gaan help nie?  Hoekom moet alles in geweld eindig?
Ons is nou weer in die middel van die opstande en “demands”. Die 2011 strike season is in volle gang.  Hoekom moet ons elke jaar deur hierdie “destruction” gaan? Hoekom leer ons nie?  Waarom word dit toegelaat dat geweld hiermee gepaard gaan.  Ek sien op TV hoe hulle karre stukkend slaan, rommel rond strooi en goed aan die brand steek.  ‘n Paar weke terug sukkel ons om brandstof te kry. Daar is sekerlik beter maniere om ontevredenheid oor ‘n saak te wys?
Dit werk teen mens se gesonde verstand om een oomblik nasie trots te ervaar en te promoveer (en erkenning te kry daarvoor) en daarna toe te laat dat die land afgebreek word.

Sunday, 14 August 2011

Dankie tog vir Tegnologie

Alhoewel ons nog nie seker is wanneer ons Australia toe gaan trek nie, is ons in alle erns besig om voor te berei.
Dankie tog vir tegnologie! Terwyl ons so met die internet begin voorberei kan ek nie help om te dink aan ons voorvaders wat jare gelede Suid Afrika toe gekom het met die hoop op ‘n nuwe en/of beter toekoms nie. Hulle het geen manier gehad om werklik te weet wat vir hulle voorlê, hoe die Kaap gaan lyk, hoe die behuising sal lyk, ens, nie.  Iets om oor te dink en sommer nuwe respek te kry vir die brawe Ooms en Tannies.
Gelukkig leef ons nou in die 21ste eeu en ons kan met gemak BAIE inligitng op die internet kry.
Eerstens is daar genoeg websites wat mens vertel oor Aussie lewe.  Nuus, reëls, wette, woonbuurte, leefstyl.  Genugtig, ek kyk selfs gereeld op Coles and Woolworths se websites om ‘n idee te kry oor hoe die kos pryse lyk. Ons het al meubel winkesl soos IKEA se website deursoek en pryse vergelyk. 
Ons lees gereeld die nuus sites en ek behoort aan 'n paar relevante Aussie facebook groepe.
Die huisverhurings websites werk maar dieselfde as die sites wat ons hier in SA het. Ons het nou al ‘n redelike idee van buurte wat ons in belang stel in Sydney.  Nogal opvallend oor die "ratings" wat hulle die buurte gee dat misdaad nie ter sprake is nie. Net hoe kindervriendelik, ens., dit is. Ons gaan seker nog baie sulke welkome verassings kry!
Ons weet wat ons lewenskosts sal wees (wel min of meer). Ons weet hoeveel parke in die buurt is, ons weet hoe kindervriendelik dit sal wees.  Waar die publike vervoer is, hoe ver en gemaklik die winkelsentrum is, waar die skole is en watter buitemuurse aktiwiteite in die omgewing is. (alles danksy, google maps, street google en google earth!!)
Ons leer dit alles terwyl ons duisende kilometres van Australia is. 
Die kinders is ook baie gretig om te leer en Megan (12) het klaar vir haar ‘n skool gekies …. Gebaseer op die skool univorm. Nou-ja, moet maar seker die “amper tiener” tevrede hou met die mode ook J. Ons sal nog sien of ons werklik ‘n skool sal kies gebaseer op univorm. ;-)
Ons eet, drink, slaap Australiese voorbereiding. 
Ons maak ons lysies, gesels met vriende / familie in Australia oor geleenthede. Kyk na werkopsies en so gaan dit aan.
Ons drink behoorlik die blogs in oor ander mense se ervarings. Dit is nie net die praktiese reelings nie, maar die emosionele onwikkeling oor emigrasie wat mens in die blogs leer.  Ek moet eerlik wees, soos ek elke blog lees, word ek al hoe meer groen. Ag, as ek tog maar net alreeds daar kan wees en my nuwe lewe begin. Hierdie wag is vir my erger as toe ek ‘n kind was en vir my verjaarsdag partytjie moes wag, of vir die vakansie. Dit is vir my erger as toe ek swanger was en nie kon wag om my poppie te ontmoet nie.  Nee, kyk, hierdie is die ergste wag nog ooit. 
Ons doen soveel as wat ons kan aan hierdie kant met voorbereidning.  Ek weet dit gaan baie meer vat as net ‘n paar websites en blogs opswot, maar dit is wat ek vir nou het – en dit is nog steeds meer as wat die settelaars van die 1600’s en die die Voortrekkers in die 1800’s.  Ons is baie bevoorreg en dankbaar vir tegnologie.
Ons lysies is besig om te groei met vrae en plekke wat ons wil besoek. As alles goed gaan, gaan ons Desember / Januarie terug Australia toe vir ons “entry” en dan sal ons baie van ons vrae kan antwoord.