Timeline

Monday, 19 March 2012

Mense se reaksies

Ek het hierdie blog laas jaar al begin skryf en dit in die argiewe gebêre.  Ek was nie seker of dit die regte ding is om hier te publiseer nie, maar na 'n paar insidente het ek besluit ... ek gaan vertel. Mense moet weet hoe ek voel...
Vandat ons dit bekend gemaak het dat ons na Australia emigreer, het ons al vele reaksies van mense gehoor.  Meeste reaksies is positief soos:

- As ons die geld gehad het, sou ons dit ook gedoen het
- Julle het meer "guts" as ons, maar ons wens julle sterkte toe.
- Ek kan nie nou my ouers / kinders los nie.  Ons lewe is te ingewikkeld.
- Julle doen die regte ding.
- Dit is jammer, maar ons verstaan.
- Vertel my hoe om die proses te begin. Ons wil ook emmigreer.

Daar is vele redes waarom mense nie wil emmigreer nie. Daar is die wat dit ook al oorweeg het, maar as gevolg van omstandighede dit nie sal kan of wil doen nie. Ek het respek vir elke persoon se eie keuse en is onder geen indruk dat omdat ek emmigreer, moet almal dieselfde dink as ek nie.
 
Ons is verskillende mense met verskillende geskiedenisses, omstandighede, emosies en afhanklikhede.
 
Ek waardeer egter eerder eerlikheid as 'n agteraf geblaf van jaloerse, onkundige en beterweterige mense. Dit maak seer en maak soms ons hele proses moeiliker omdat mense lelike goed agter ons rug sê of bespreek.

Verder probeer sommige ons oortuig dat ons redes vir emigrasie stupid en ongegrond is. Sommige van die redes en verskonings (om in SA te bly of om nie te emigreer nie) wat mense in gesprekke met ons aanvoer is werklik ... ek wil amper die woorde naïef of onkundig gebruik.  Dit is asof hulle ons uitlok vir 'n argument.  Sommige stellings is werklik net nie goed deurdink nie en ander is sommer net uit jaloesie.  In meeste gevalle bly ek maar stil en vat die mondelikse "punches" - ter wille van vrede.  Ek wil werklik nie in 'n argument betrokke raak nie. Hierdie is soos om oor politiek of godsdiens te arguneteer. Niemand gaan ooit wen nie, maar almal staan die kans om vriendskap te verloor.
Soos ek sê, ek is OK met elkeen se opinie, maar moenie jou opinie op my afdwing of my vertel jou opinie is beter as myne nie.  Moet ook nie agteraf skinder en dat ek deur ander hoor wat jy sê nie. Dit is lafaard gedrag!  Ek moes ook al agteraf hoor dat ek 'n verraaier is, dat ek te negatief oor die lewe is en dat ons dit nog gaan berou!

Hier is 'n paar argumente wat ek die laaste paar maande gehoor het (my opinie hieroor in Italics - ek hoor die korrekte Afrikaans hiervoor is Kursivering) :

Julle trek seker nie oor die misdaad nie? Mense word oral vermoor of mens kan nie wegtrek van misdaad nie.
Hiermee stem ek saam, daar is misdaad ooral.  Die verskil is net dat die statistiek daarop dui dat ek 'n kleiner kans het om in Australia deur misdaad geraak gaan word.  Ek is seker ons huis kan daar ook beroof word of ek / my gesin kan daar ook betrokke wees in 'n skietvoorval.  Maar die kanse is soveel kleiner. Toe ons in Australia was (beide kere) slaap mens net soveel rustiger.  Mens parkeer jou motor op vreemde plekke en raai wat - jy is 99.9% verseker jou kar gaan daar wees as jy terug kom.  Mens loop sonder vrees in die strate en kinders speel op skool terreine wat nie eens omhein is nie. 
Ja, daar is misdaad oral, maar die graad en impak is werklik anders - veral in Australie.

Daar is ook ongelukke en padsterftes in ander lande.
Weer-eens, JA.  Daar is ongelukke en padsterftes, maar daar gaan in 'n jaar minder mense op die Astraliese paaie dood as wat daar in een vakansie hier in SA doodgaan.  Die mense in Australia het 'n ongelooflike respek vir die pad, padreels, gereg en ander gebruikers. Dit is voorwaar iets om te aanskou om te sien hoe mense almal dieselfde reels op die paaie nakom.  Jy kan nie glo hoe mense werklik by Zebra kruisings stop nie.  Voetganers stap net eenvoudig oor die pad - wetende dat die motoriste vir hulle gaan stop. Hier in SA het 'n ander ou amper in my vas gery toe ek by 'n Zebra kruising vir die voetgangers stop.  Hulle het nog nooit so iets gesien nie! Padreels word nie in Australia gevolg omdat daar 'n spietkop of bortjie is wat dit sê nie, maar omdat almal weet die wet sê die spoedgrens verminder in reen toestande en jy moet by 'n voetganger oorgang stop.  Ek of my gesin kan daar ook verongeluk, dit is 'n realiteit, maar weer-eens, ons kanse is soveel minder.  En die elke dag se "verkeer-stres" is soveel minder!

Kyk maar net na TV programme soos The Force, Border Security, Missing People etc.  Daardie programme wys dat daar maar ernstige probleme is.
Ek kyk gereeld na al daardie Australiese programme en geniet elke oomblik daarvan.  Dit beeld uit wat fout gaan en hoe die polisie dit hanteer.  Hulle doen hierdie programme om aan die wereld te wys hoe suksesvol hulle in Australie is.  Hierdie programme wys hoe effektief die polisie is en om mense op te voed in die wyse van doen. Op youtube moet ons sien hoe Suid-Afrikaanse polisie mense doodskiet, mishandel en die skare nie kan hanteer nie. 
 
Die tuine en kwaliteit van huise is baie swak
Wel, ek weet nie waar die persoon gekyk het nie, maar waar ek gekyk het, was die tuine netjies en die huise baie mooi.  Mooier as wat ek dink die gemiddelde Suid Afrikaner hul huis sal hou as hul nie al hul huishulpe het nie (Huishulp en tuinhulp).  Onthou, Aussies doen alles self.  Daar is nie goedkoop of geredelike arbeid nie. Gee hul krediet vir wat hulle bereik sonder om huishulp te hê.  Al die areas en huise waarin ek was (ons was by baie open houses en vriende), is netjies en goed versorg.

Ek kan nie in 'n land bly waar hulle so snaaks praat nie.  Die Australiers het 'n baie snaakse aksent.
Eerstens, onthou... jy praat vir hulle ook snaaks.  Jy het ook 'n aksent.  Ongelukkig moet ek sê, die Australiese aksent staan my nou ook nie eintlik aan nie, maar ons woon in 'n land waar daar in 11 verskillende tale gepraat word - wat jy heel moontlik nie eens verstaan wat gesê word nie.  Ten minste is die Australiers Engels en van wat ek gehoor het, mens raak gou gewoond aan die aksent.  Een van die dae sal ek ook "mate, see ya lade" sê. 

Die Australiers is maar 'n ongeskikte nasie. Hulle is nie vriendelik nie
In teen deel.  Hulle is van die vriendelikste mense wat ek ontmoet het (met my beperkte internationale ervaring). Dat hulle ongeskik is, is 'n SuidAfrikaanse persepsie wat totaal ongegrond is. Ons het ongelooflik lekker met die Australiers oor die weg gekom en as hulle hoor jy het 'n aksent (meese weet onmiddelik jy kom van SA af) dan begin hulle eers lekker gesels.  Hulle is 'n opregte nasie en almal gee om vir mekaar.  (Daar is natuurlik altyd die "weirdos" - maar hulle is soos in alle ander plekke maar in die minderheid). Dis die tipe mense wat vir jou koeldrank en koekies aandra as hulle sien jy trek in en vir jou hoendersop bring as jy siek in die bed is.  Die bure ken mekaar en kom in meeste gevalle goed oor die weg. 

Ek het nie nodig om land te verlaat nie want my lewe het nie veel verander in die nuwe SA nie
Ek is baie bly vir die persoon dat hy so voel.  Ek weet net nie in watter deel van SA hy/sy woon nie.  Ek dink in hierdie persoon se geval is dit soos die paddatjie wat in 'n pot water op die stoof swem.  Hy besef nie die water word geleidelik warmer nie en teen die tyd dat hy dit besef - dan is dit te laat. 
Ek ken baie sulke mense wat elke dag kla oor die nuus, die politiek, die skoolstelse, die misdaadsyfer, die werkloosheid, wetteloosheid en wat nog alles, maar moet net nie noem dat Suid Afrika verander het nie - dan is die spreekwoordelike hel los.  Ek voel jammer vir die mense want hulle gaan eendag wakker word en besef dit is te laat om iets daaraan te doen.  Aanvaar eerder die veranderinge en werk daarmee saam (of veg dit) as om dit te ignoreer.

Ek kyk nie nuus nie, so die gebeure in Suid Afrika affekteer my nie
Ek weet nie eens hoe om hierdie een mooi en subtiel te antwoord nie.  Al wat ek kan sê is as jy daardie tipe volstruis houding wil hê, gaan jy vinnig agterkom hoe iemand jou op die gat gaan skop terwyl jou kop in die ander gat is! Jy gaan nie eens weet wat kom todat dit jou tref nie!  As jy in Suid Afrika wil bly, wees ten minste bewus van wat om jou aangaan, sodat jy voorbereid kan wees of kan baklei vir die regte redes.
Ek het genoeg geld om my kinders in 'n privaat skool te sit, so die huidige skoolstelsel beïnvloed ons nie
Ek is baie bly die persoon is in 'n bevoorregte posisie om sy/haar kinders in 'n privaat skool te sit en ek wens ek kon dit ook doen. Dit sou beslis veral my ADHD dogter baie gehelp het.  Ongelukkig het ek nie die tipe geld nie en moet tevrede wees met ons huidige skool stelsel.  Alhoewel ek moeg daarvoor is dat my kinders die staat se "guinea pigs" is totdat hulle 'n skoolstelsel kan kry waar almal goed kan doen.  In elk geval, om jou kind in 'n privaat skool te sit is 'n oplossing om die staat se skoolstelsel te vermy, maar wat gebeur na die skool.  Ongelukkig gaan almal (privaat en staat onderrig) na dieselfde Universiteite en ander tersiere inrigtings en daar word daar nie gevra of jy privaat of staat is nie. Die kwaliteit van ons universitetie het verminder en sekere kwalifikasies word nie eens meer oorsee aanvaar nie. Dieselfde oor werk. As jou kind na skool gaan werk, is die kanse skraal om werk te kry - of jy nou privaat of staat is.  As jy in SA bly en jy het geld om jou kind in 'n privaat skool te sit is ek baie bly vir die persoon.  Ek vrees net wat gaan met die kinders gebeur as hulle klaar is met skool.

Ek sal nie sonder my huishulp en tuinhulp oor die weg kan kom nie.
Ai tog.  Ons Suid Afrikaners is so bederf.  Ek weet daar is ander wêreld dele wat ook geredelik en goedkoop arbeid het, maar meeste eerste wereld dele het dit nie.  Kan ons nie maar nou wakker skrik en besef hoe ons bederf is nie?  Toe ons in 2010 in Australia gaan vakansie hou het en nog voor ons besluit het om te emigreer, het ek besef hoe bederf ons kinders is. Daar het ek agter gekom hoe ons kinders nie werklik kan "huishou" nie. By die huis loop die bediendes agter ons aan en sit glase op die regte plek, tel skoene op en was ons skottelgoed.  Na ons vakansie in 2010, het ek ons kinders "gedril" en my kinders kan nou 100% sonder 'n bediende oor die weg kom.  Dink net gou hieroor ... indien jy nie gaan immigreer nie, is die kanse baie groot dat jou kinders dit gaan doen of dat hulle vir 'n paar jaar oorsee gaan werk of studeer.  Gee jou kinders daardie "huislike" onderrig wat ons nou aan ons bediendes oorlaat.  Hulle gaan baie dankbaar wees dat jy hulle die regte "gereedskap" gegee het.

Klere is so duur - mense kom koop dan as hulle hier  in Suid Afrika is.
Australië is duur.  Ek stem saam, of jy nou in Rande of in dollars daar gaan koop, dit is duur.  Maar dit is nie onbekostigbaar nie.  Almal wat ek ken uit Australie, kom met leë tasse om in SA te kom kuier en klere te kom koop.  Dit is NIE omdat hulle dit nie daar kan bekostig nie, maar as jy SA toe kom, hoekom nie ook sommer 'n paar goedkoop goedjies optel nie. Almal doen dit as hulle Indië, Ooste of ander goedkoop lande toe gaan?!

Daar is nie baie Kerke nie.  Dit is nie 'n Christelike nasie nie
Duidelik was jy nog nie in Australië nie. Kerk en Christelike lewe is groot! Hulle is 'n land met baie waardes.  Christenskap word nie afgedwing nie, maar dit word ook nie geïgnoreer nie.

Jy verraai jou Afrikaanse agtergrond. Wat van die geskiedenis van die Afrikaner?
Verskoon my, maar van wanneer af is die Afrikaner se geskiedenis nog belangrik in hierdie land.  Dit mag dalk vir my en vir jou wees, maar die kinders leer nie eens meer waaroor die groot trek gegaan het nie. Hulle weet nie dat ons voorvaders vir eeue lank geveg het en bloed gesweet het vir hul regmatige plekkie hier in die Suiderlike Afrika nie. Al wat hulle leer is hoe belangrik Nelson Mandela is as vryheidvegter.  Wat van Piet Retief, Andries Pretorius en al die ander?  Moenie my kom vertel oor geskiedenis nie, want in hierdie nuwe SA is daar nie plek vir die Afrikaner se geskiedenis nie. As ek en my Afrikaner bloed nie meer belangrik is vir hierdie land nie, dan gaan soek ek maar 'n plekke waar ek nog belangrik is vir iemand anders.

Ek sal nooit dieselfde geld daar kan verdien as hier nie. Vriende/familie kom terug omdat hulle hier meer kan verdien.
Ja, dit is waar.  In verhouding is jou inkomste dalk minder in Australië, maar jou uitgawes is ook baie minder.  Mens kry ook net soveel meer vir jou belasting geld.   Die ander voordeel is dat jy in eerste wêrele geldeenhede verdien. Mens wen ook met die kwaliteit van lewe wat mens het.  Daar is 'n prys gekoppel aan hierdie finansiele vryheid, sekuriteit en sorgelose lewe.

Die kinders in Australië het geen dissipline nie.
Ek het dit nou nog nie persoonlik gesien nie, maar ek het al daarvan gehoor.  Die probleem is dat dit nie net in Australië gebeur nie. Dit gebeur oral ... Ook in Suid Afrika.  Die mense hier in SA is net nie so blootgestel daaraan as in ander lande nie. Sien, in Australië sien mens kinders oral. In die parke, strate, winkel, busse, treine, ORAL.  Hier in SA is die kinders meer geneig om nie in die openbaar te leef nie.  Dus, die blootstelling is minder en dus besef SA nie hoe hul jeug ook ongedisiplineerd is nie. Vra maar net 'n onder wyser hoe ditverander het.

Ag, daar is nog vele "argument stellings" wat mense in ons rigting gooi, maar ek dink ons het so bietjie dikvellig geword daaroor.  Ons doen wat ons doen en die ander moet ons nou maar uitlos!

Een van my familie lede wat redelik teen ons emigrasie gekant was, het onlangs 'n negatiewe ervaring gehad en aan my genoem dat hy dink ons doen die regte ding. Ek het amper van my stoel af geval toe hy dit noem. Sulke positiewe reaksies maak my gelukkig voel.  Ek voel nie meer so verwerp nie.

Die interessanteste reaksies is van daardie mense wat ook baie graag 'skelmpies' wil emmigreer.  Hulle vra my uit en vra ons oor elke stap van die proses ... dan sê hulle: "ons wonder maar net oor die proses" ... maar 'n paar weke later, kry ek die oproep of email "Wat is naam en besonderhede van die immigrasie agent wat julle gebruik het?"  Dan gee ek die besonderhede en glimlag ....

Monday, 12 March 2012

Opvang Blog - Maart 2012

Hallo Blog maatjies

Ek het meer as ‘n maand laas geblog!  Kan julle glo?
Dit was geensins aspris nie.  Daar het net soveel gebeur die afgelope paar weke. As ek ‘n paar minute vir myself het, dan begin ek ‘n blog entry, maar voor ek my kom kry, dan is dit ‘n dag of wat later en die nuus het weer verander of daar het te veel gebeur om tred te hou in ‘n blog.  Dit is nou maar net ‘n paar daggies in Maart, maar laat ek julle dit sê…. Dit voel of ek al ‘n jaar beleef het van die begin van die jaar af!

Laat ek eers gou opvang met die afgelope maand of wat se gebeure.  Ek was werklik baie besig en julle sal my moet verksoon, maar die blog het ongelukkig 2de plek gevat met al die doenighede.  Hiermee alles wag gebeur het:

Trek datum:
Begin van die jaar het ek en manlief besluit om die April skool vakansie te gebruik om sommer ons finale trek te doen Sydney toe.  Dit het natuurlik ekstra stres op ons geplaas siende dat ons ‘n paar miljoen goedjies het om af te handel.  Trek kwotasies, huis verkoop of uithuur reelings… en nog vele ander goed.

Terwyl ons so regmaak om te trek in April, word ons spoed van 220km/h na stiltand geruk.  ‘n Paar goedjies het gebeur wat maak dat ons nie nou onmiddelik kan trek nie! Ons gaan nou eers teen die einde van die jaar kan trek.  Ek is bietjie emosioneel daaroor en sou vekies om eerder April te trek, maar ek verstaan omstandighede en moet daarby berus.  Dit is dalk ‘n bedekte seen, want dit gee ons meer tyd om sekere goed af te handel.  Daar is nog ‘n paar goedjies op ons “bucket list” wat ten minste nou gedoen kan word.
As alles nou goed gaan, sal ons teen Desember kan trek. 

Kinders en skool
Ons het laas jaar ‘n au pair gehad wat vreeslik lekker uitgewerk het.  Die kinders het nogal ‘n paar dinge na skool aan die gang en dit het geweldig gehelp.  Die Au Pair kan nie meer die jaar werk nie en gevolglik het het ek en manlief in ‘n vurk in die pad gekom. Wat nou?  Ek is nie mal oor die Aftercare ding nie en hou daarvan dat die kinders by die huis is en persoonlike aandag kry.    

Die groot probleem is dat een van die dogters het ADHD.  Dus vereis dit vreeslik baie betrokkenheid by haar huiswerk, toetse en projekte. 
Wel, siende dat my werk in elk geval al hoe minder word en dat baie van my take aan my kollega oorhandig is ter voorbereiding vir ons immigrasie, het my man en sy kollega my toegelaat om net ‘n skere hoeveelheid ure per week te werk.  Dit werk basies uit op 4 oggende ‘n week.  Dit werk perfek vir my want ek kry my “intellektuele” stimulasie van my werk en het nog steeds genoeg tyd in die middag vir my kinders se aktiwiteite, skoolwerk, ens.

Die meisies doen al 3 perdry. Ek moet nou 2 keer ‘n week so 25 km ry om hulle by die perdry te kry.  Verder doen hulle al 3 ook klavier lesse.  Tussen die perdry, klavier oefen, perdspring kompetisies, huiswerk, toetse en bietjie ontspanning, kom ons darem reg in die middae.  Ek het nooit geweet om ‘n ‘voltydse’ mamma te wees is sulke harde werk nie!  Ek geniet elke oomblik van kwaliteit tyd met die kinders.  Ek sal hierdie tyd wat ek met die kinders spandeer vir niks verruil nie – nie eens om tyd te maak vir my blog nie!! J
Familie fees
Ek het ‘n baie groot familie aan my pa se kant.  Ons probeer om redelik gereeld ‘n familie fees te hou, waar soveel as moontlik van die familie bymekaar kom om ‘n naweek te kuier.  Ek het so 2 jaar terug aangebied om die volgende een te reel en dit het toe in Februarie gebeur.  Dit was harde werk om alles te reel, maar het gelukkig goed afgeloop.  Dit was ook baie lekker om van die familie weer te sien. Dit sal seker die laaste keer in ‘n lang tyd wees dat  ek van die familie sal sien, so ek is baie bly ek het die geleentheid gehad, al het dit baie van my tyd in beslag geneem.

Vakansie in Sydney
Met die dat ons nou nie meer in April kan immigreer nie, het ek en Sarel ‘n bietjie van ‘n dillemma beleef.  Sien, ons moet voor middle Mei ons “entry” doen vir ons Permanente Verblyfreg om “geaktiveer” te word. 

Ek en Sarel het mos laas jaar Oktober vir 2 weke Sydney toe gegaan en gaan huise, woonbuurte ens gaan uitkyk.  Dus, is ons OK om Desember te trek.  Maar die probleem is dat die 4 kinders nog hul ‘entry stamp' moet kry. 
Gevolglik het ons nou maar besluit om die baie geld uit te haal en vir ‘n week in Sydney  te gaan vakansie hou met al 4 die kinders.  Ons het klaar ons plekke bespreek en vertrek aan die begin van April.


Perth
Ons het 'n 10 ure "stop-over" in Perth, so ons moet goed soek om te kan doen vir daardie 10 ure.  As enige van julle idees het wat ons kan doen, laat weet deur 'n boodskap te los. Dankie!

Toeval
Toevallig, is ons op dieselfde vliegtuig geboek na Sydney, via Perth as een van my baie goeie vriendinne wat daardie dag trek na Perth.  Dit is so toevallig, maar ek is ongelooflik bly dat ek daardie ondervinding saam met haar kan deel. 

Nou-ja, nou het julle darem weer nuus van my kant af gehoor en ek sal probeer om meer gereeld te vertel hoe dit met ons immigrasie proses gaan.