Ek lees nou op Facebook van vriende wat Suid Afrika se
Olimpiese goue medalië wenners prys en daarna noem dat dit ons trots maak om ‘n
Suid Afrikaner te wees. Net voor die
Olimpiese spele was dit Oud president Nelson Mandela se 94ste verjaarsdag en
die nasie het saamgestaan om 67 minute se goeie dade te doen. Die wereld het
saam met Suid Afrika gevier! Die naweek na sy verjaarsdag het Ernie Els die
Britse Ope in Golf gewen. Die Proteas doen ook goed in Engeland.
Dit voel goed as jou land goed doen wat jou trots maak, maar
….
Is sulke nasie trots genoeg om my in Suid Afrika te hou?
Ek lees gereeld die kommentaar wat mense lewer op internet
blaaie soos Facebook, News24, Beeld, Huisgenoot, Carte Blanche, ens. As iets sleg of skandalig met die land
gebeur, dan wil mense emigreer, hulle kritiseer die regering en wil koppe sien
rol. Byvoorbeeld die toilet skandaal van ‘n paar jaar terug en nou weer die
skool handbook skandaal in Limpopo.
Die oomblik as iets goeds gebeur, soos ons 2 goue medaliës
(sover!), dan is die regering besig om alles reg te doen en die wat die land
wil verlaat moet hul “koppe laat lees”, want kyk hoe goed doen die land. Voorwaar prestasies wat ons as ‘n nasie weer
bymekaar bring, nes die ’95 Rugby Wêreldbeker en die 2010 Sokker
Wêreldbeker!
Nou, terwyl die land weer op ‘n “high” is, vertel mense my
ons is stupid, onpatrioties en belaglik om te wil emigreer! Ek
moet nou weer hoor dat ek nie nasie trots het nie. Ek moet hoor dat Suid Afrika
doen goed, waarom wil ek die land verlaat???
Kom ek vertel jou …. Ek kry hoendervleis as ek ons volkslied
hoor tydens die Olimiese spele. Ek kry
trane in my oë om ons mooi vlag trots te sien wapper. As gesin sit ons vasgenael voor die TV en kyk
elke moontlike sport om SA te sien presteer. Ons skree ons longe uit dat hulle
moet goed doen. Met Madiba se verjaarsdag
het ons meer as ons 67 minute van weldoen dade gedoen. Ons is trots op Ernie Els en saam met die
land bly oor sy prestasie. Ons is bly die Protea krieketspan doen goed en ons
is saam hartseer dat Boucher seergekry het en nou moes uittree!
Maar…. Die feit dat ons nasie trots het, gaan nie vir my kinders
verseker dat hulle eendag ‘n goeie werk gaan hê nie. Nasie trots verseker nie
ons toekoms en veiligheid nie.
Nasietrots maak nie dat mense beter bestuur nie en minder ongeduldig op die pad is nie. Dit maak nie dat die politiekuste minder korrupsie
pleeg nie. Dit verbeter nie die
toestande in ons skole nie. En dit gaan
beslis nie versker dat my kinders eendag ‘n kans staan om ook Olimpiese spele
toe te gaan nie, want “kwotas” speel mos so groot rol.
Die trots wat ek op SA het vir wat hulle bereik word
uitgewoes deur bekende straatname te verander soos Pretoria se Kerkstraat,
Charles Straat en Proes straat. Om my
kinders se toekoms op te dons met ‘n kurrikulum in die skole waar hulle amper
niks leer nie! Wetteloosheid, korrupsie
en onregverdigheid vermorsel die nasietrots wat ek graag wil ervaar.
Liewe vriende en familie lede wat my vertel ons is onpatrioties
om ons land te verlaat … vertel my asb, behalwe vir die paar bereikinge wat ons
as ‘n nasie so af en toe bereik, wat is oor vir my om patrioties oor te voel? My geskiedenis mag nie deel wees van die land nie en my kinders se toekoms is wankelrig in hierdie land. Ek sal altyd lief wees vir Suid-Afrika, maar daardie liefde is beperk tot my herinneringe van 'n land wat eers was ....
No comments:
Post a Comment