Timeline

Thursday, 17 January 2013

Laaste dae in SA!

Wel, nadat die container daar weg is, het ek so 'n leë gevoel in my hart gehad.  Maar die huis was nog nie leeg nie!!

Ons het nog redelik meubels en goed in die huis gehad wat na verskillende plekke moes gaan. Van die items was doelbewus agtergelaat sodat ons nog vir 'n maand in ons huis kan bly.  Daar is wel 'n handjie vol goed wat hulle nie in die container kon pas nie, maar soos genoem, het dit reeds na die trek maatskappy gegaan om later verskeep te word.

Ons het ten minste nog 'n bed gehad om op te slaap, 'n sitkamer stel en TV waar ons kon TV kyk. Buurvrou maatjie het vir my 'n paar borde, wynglase, 'n pot en 'n pan geleen. Ek het by my ma 'n mikrogolf oond geleen. Ek het ons pickniek mantjie uitgehou en daardie messe en vurke gebruik.  Ek het my Thermomix uitgehou so ons kon ten minste kos maak daarin ook. 

Verder het ek my gunsteling skerp messie, 'n sker, blikoopmaker en 'n opskeplepel uitgehou. (Dit het alles in die tasse saam gekom)

Ons was dus reg om vir so maand in ons huis te woon.

Maar eers het ons die laaste item op ons "bucket list" gaan doen. Ons het vir 'n week na Kaapstad gegaan.  Wel, eintlik het ons in Paarl gebly en daar rondgery, wyn geproe en Tafelberg gaan besoek.

Tafelberg is Suid Afrika se grootste ikoon en dit was vir ons belangrik dat die kinders ten minste Tafelberg sien voordat ons land uit gaan.

Hiermee 'n paar foto's van ons vakansie daar:
 

Wynproe by Nederburg

Kids voor Nederburg se Masterchef kombuis

Afrikaanse Taalmonument in Paarl



Bootrit net buite die hawe

Wynvatte by KWV

KWV

Grootste wynvatte!!! (by KWV)

Bo-op Tafelberg



Wel, na ons vakansie het ons 'n laaste Kersfees in SA by my Ma'le se huis gehad.  Ons het verder die laaste goed in die huis uitgesorteer .... en reggemaak vir ons vlug.

Hierdie 2 fotos is 2 dae voor ons gevlieg het.  Die eerste is die hoop goed wat ons bediende huis toe gevat het en die 2de is die laaste goed wat ons na my ouers se huis geneem het.


 
In my lewe sal ek NOOIT OOOOOIT weet in so groot huis bly nie.  Dit het gevoel of ons nooit die ding sou leeg kry nie.  Hoe groter die huis .... hoe meer crap maak jy bymekaar!!! NOOIT WEER nie.
 
Noudat ons in hierdie huurhuisie in Sydney is, besef ek dat ons die regte ding gedoen het om meeste van ons meubels weg te doen en dat ons 20ft container self te veel is vir wat ons nodig het. 
 
Maar nooit weer 'n groot huis nie ... belowe!!!!!

Tuesday, 15 January 2013

En ons het gearriveer!!!

Liewe dagboek ...

Op 9 Januarie 2013 het ons land gesien en ons voete aan wal gesit ...

Wel eintlik voete van die vliegtuig af. Na meer as 2 jaar se beplanning, wag, administrasie en rondskarrel is ons uiteindlik op die plek waar ons wil wees.  Ons is in SYDNEY, AUSTRALIA!!! Dit voel nog so onwerklik!!

Dit was 'n vreeslike woelige en besige maand.  Ek het nie geweet of ek kom of gaan nie.

Maar nou ja, ons het dit reggekry!!! Ons is nou al 'n week in Sydney.  Ons is in ons huurhuis ingetrek en "so far ... so good".

Maar wag, ek het so baie om te vertel dat ek dink ek moet elke dag 'n stukkie vertel om op te vang.

Kom ek begin by die pakkery in Suid Afrika:

Die Container pakkery

Hulle het toe die container kom pak die 10 en 11de Desember 2012, maar mense.... laat ek julle dit vertel .... daardie nonsens van "ag hulle kom pak so dit is nie harde werk nie" is 'n vet pot rubbish!!!

Sonder om doekies om te draai ... jy werk jou gat af! Sien, die trek maatskappy kom daar aan en gee jou so 'n kort rukkie om saam hulle deur die huis te stap en jy vertel alles wat moet gaan, wat is belangrik, wat is 'n "maybe - as daar nog plek in die container is" ens. Wel, 'n sekond nadat ons klaar deur die huis is begin die 4 mans elke in hul eie rigting spring en elkeen doen sy eie ding.

Supervisor is in die Kombuis en ek help hom. Assistent no 1 is besig om die sitkamerbanke te pak en Assistent 2 en 3 het in die garage begin. EN ALMAL SOEK MY DIESELFDE TYD OM RAAD TE VRA!!! Ek was in 3 geskeur die hele dag. Ek het help pak en seker gemaak dat hulle elke hoekie en stukkie spasie benut, want ongelukkig ken hulle hierdie vrou sleg. Ek weet hoe om spasie te maak. Ek het hulle selfs maak goed uitpak en oorpak net om beter spasie te kry.

En so het hulle toe ons hele 540 square meter huis in 'n 20ft container gekry.... behalwe vir 1 gemakstoel en 2 "fênsy" stoele wat ek nie weet hoe om hulle te beskryf nie. Ons het toe later besluit om die items wat nie gepas het nie en ook 'n boks of 2 ander goed in 'n gedeelde container te stuur. Hulle kom toevallig vandag dit pak (dit is gestoor by skoonma) en dan sal ons dit later in die jaar kry.

Maar ek is werklik beïndruk met wat jy alles in 'n 20ft container kan kry!!!

Ons het op nommer laaste besluit om ons yskas, wasmasjien, tuimerdroeer en ons Queen bed saam te neem en dit het gemaak dat daardie container sy nate gaan bars daar op die oseaan.

Mensig, julle moes gesien het hoe hulle die deure van daardie container toe maak. Dit een ou het so aan die bed vasgeklou, dit binne gehou terwyl die ander die deur toe maak om dit binne te kan hou. Ek wonder maar net hoe hulle dit gaan oopmaak, want daardie bed gaan beslis op daardie ou se kop val! Hopelik is dit nie my probleem nie.

Raad aan die wat nog moet pak:  Wel, moenie dink jy kan dit 100% beplan nie.  Probeer, maar wees voorbereid op allerande "snags".  Geniet dit!!!

Kyk gou die fotos van ons pakkery!

So lyk dit terwyl hulle pak

 

Die container het aangekom

Dit is soos "tetris" speel met die verskillende "shapes" van die bokse en goed wat toegedraai is

Ek het nooit gedink hulle gaan alles inkry nie!

En so het die ouens die goed vasgeklou en die deure toegemaak om alles binne te hou


Ons trekspan - wonderlike mense gewees

Dit was werklik emosioneel toe daardie trok daar wegry!  Die container is nou al amper in Sydney en as alles goed gaan sal ons teen die einde van die Januarie / begin Feb ons goed hê.

More vertel ek julle verder ....

Sunday, 6 January 2013

Nuwe jaar en 2 dae voor ons vlieg

Ai julle, ek kan nie glo dit is al 'n paar dae in 2013 en 2 dae voor ons vlieg nie!!!  Tyd vlieg darem so as jy besig is.

Ek het nog nie kans gekry om julle te vertel van die pakkery en die container wat hier weg is nie.  Ons het 'n week in Wes Kaap gaan vakansie hou ('n laaste item op ons bucket list) en ons laaste Kersfees/Nuwe jaar in Suid Afrika spandeer.



Ek kan nie beskryf hoe baie goed op nommer laaste gedoen moet word nie.  Dit is iets vreeslik en nou ja, ek het ook nie nou skielik tyd êrens gewen nie.

Ek dog net ek laat weet al die lesers dat ons amper vlieg en dat ons nog darem nog lewe en aan die gang is.  Ons land die 9de in Sydney en ek glo ek sal dan meer tyd hê om op te vang met die foto's en om julle te vertel van alles wat die laaste maand gebeur het.

Dus, "sien julle aan die ander kant".

Laaste keer: Groete uit Suid Afrika