Timeline

Monday, 10 February 2014

Om huis te koop .....

Ons huurkontrak het einde Januarie verstryk.  Toe sit ons nou met die groot vraag .. Koop of Huur?  Die Aus huismark is besig om by die minuut te groei (veral in Sydney!!!) en as ons wil koop moet dit vinnig gebeur.

Die area waar ons woon is daar ook baie min huise te koop, wat die huispryse nog hoër laat styg!

Wel, so besluit manlief en ek dat ons maar huise begin kyk, en net vir ingeval 'n oog op die huurmark ook sal hou.

Nou ja, vir die wat dit nog nie weet nie, huiskoop en skouhuise werk glad nie soos in Suid Afrika nie.  'n Huis is op skou (hier noem hulle dit 'n Open House) vir 30 tot 45 minute en net op 'n Woensdag of Saterdag.  Dus, as daar 5 huise is wat jy wil gaan kyk moet jy jou timing BAIE goed beplan want baie van die huise is dieselfde tyd op skou en ook presies weet hoe ver die huise van mekaar is en hoe lank jy in 'n huis kan spandeer.  En as jy by die huis kom, dan moet jy vinnig kyk want daar is gewoonlik so 20+ couples wat ook deur die huis stap!!!

Enige persoon wat al huis gekoop het in Aus of selfs huurhuise gaan kyk weet dat jy omtrent hierdie timing ding wetenskaplik moet uitwerk en beplan!

So gaan kyk ek en Sarel na 'n klomp huise.  Elke een wat op die mark is in ons area waar ons wil bly.  Nog 'n probleem.  Die area is net so oor die 50 jaar oud en gevolglik het baie van die huise dus al so 5 of selfs tot 10 verskillende eienaars gehad.  Die gevolg .... 5 of 8 verskillende boustyle, idees en aanbouings aan die huise.  Sommige van die huise maak net nie sin nie. By party loop jy omtrent deur die badkamer of hoofslaapkamer om by die sitkamer uit te kom en ander is die 4 slaapkamers aan die uithoeke van die huis.  GEEN vloei deur die huis nie.

Ander huise is wel sooooo mooi maar saam met dit kom 'n price tag wat ons nie kan bekostig nie.  Ander is duur omdat dit 'n "view" het (mens kan Sydney tower van die toilet venster af sien .... of so stukkie water en dalk die bo-kant van die bote wat verby kom).  Nee kyk, as ek 'n view wil hê gaan dit nie 'n "stukkie iets wees nie"!!!  As ek koop, koop ek vir die view of ek koop vir die huis se waarde.  Nie omdat ek my nek moet verrek om iets nice te kan sien nie.  SERIOUSLY!!!

Ons was wel in 'n paar pragtige huise ook.  Nie almal is weird gebou of aangelas nie.  Hier rond doen hulle ook baie "knock downs" waar hulle die ou huis afbreek en 'n nuwe een op die erf bou. Daardie huise is mooi en modern en tick gewoonlik al die boksies! Maar, ons voel vir die area, verloor dit karakter.  Die ou huise bied 'n skere bekoring vir ons.

So tussen die huis soek praat ons toe met een agent en hy stel toe voor dat ons 'n sekere huis kom kyk ... en die huis is nog nie gelys nie en was nog nie 'n Open house nie.  So loop ek en Sarel by die huis in en voila ... ons is VERLIEF.  Dit is 'n ou huis, die agent se eie huis en hy het 37 jaar daar gebly en sy 3 kinders daar grootgemaak.

Die huis is groot en aangebou, maar dit is een persoon (gesin) se invloed en die huis werk!!! Dit maak sin! Die slaapkamers is mooi bymekaar, die tuin is prentjie mooi en daar is selfs genoeg slaapplek vir ons besoekers van ver af!  Hierdie is 'n huis wat ons kan in leef en ons sien onself nog vir jare hier.

So, nadat die huis toe gelys is en daar menigte voete deur die huis is, het ons toe besluit om 'n offer te maak.  Dit het alles so vinnig gebeur en die huis is gekoop.  Kontrakte geteken en alle "legalities" gedoen!!!  Ons trek die einde van die maand in!!!

Nou vir die groot pak (alweer!!!) en die trek, maar hopelik is dit ons laaste trek in 'n baie lang tyd.  Dit voel ook so of dit ons laaste stap van die immigrasie proses is.  Ons is een van die dae in ons eie huisie en al hierdie tydelike gevoelens van huurhuis en oppak kom nou tot 'n einde.

Ons immigrasie proses is nou klaar... nou kan ons 100% fokus op die toekoms en wat hierdie wonderlike land en sy mense ons bied!




1 comment:

  1. Baie geluk met jul nuwe huis. Mag jul vreeslik lekker daar bly. So bly om te sien dit gaan goed met julle en dat julle inge"settle" is in jul nuwe land.

    ReplyDelete